Mollige vroue is beter bedmaats, dalk selfs beter huweliksmaats . . . Volgens ’n studie van die Chapman Universiteit in Amerika (wat op 60 000 heteroseksuele mans en vroue gedoen is), is bevind ondergewig vroue het aansienlik minder seksmaats as hul geronde susters. Dié met ‘n gemiddelde BMI het die meeste seksmaats. In nóg ‘n studie deur Psychology Today is bevind vroue dínk mans hou van baie slanke vroue, terwyl die teenoorgestelde eintlik waar is.

Nóg goeie nuus (as jy deel is van die Rubens-brigade en in ‘n verhouding is): Mans wat verhoudings het met mollige vroue, is geneig om meer te glimlag en probleme beter te hanteer as mans wat verhoudings met ‘’potloodjies’’ het, het ’n nuwe studie bevind. Blykbaar is dunner vroue ook meer gereserveerd . . .Dít blyk onder meer uit ‘n studie van die Universiteit van Namibië (UNAM) se department sielkunde.

Wie sal weet?

Die Barefoot Contessa Ina Garten bekende Amerikaanse (mollige) kosgoeroe bekend vir haar kosprogram met dieselfde naam op Food Network (voormalige analis van kernkra-beleidsake van pres. Richard Nixon, terloops!), en haar man, Jeffrey, hoof van die Yale sakeskool, is glo gek na mekaar. Het dit te make met ‘n paar ekstra rolle, die ‘’magic’’ van kos in die verhouding . . .

Kaapse seksterapeut, dr Marelize Swart, wat ook werk vir health24, sê navorsing het oor en oor bewys dat die meeste vroue ongelukkig is as hulle oorgewig is en maerder wil wees as dit moontlik is. ‘’Vroue sê so dikwels ‘as ek net 10 kg maerder is,sal ek gelukkig wees.’ Dit is heeltemal onwaar.Ons is al so gebreinspoel deur die media – ek sien gereeld, van my maerder kliënte het net soveel hang-ups as die groter vroue.. . .’’En dié vroue kan mans nie gelukkig maak nie. Hulle is dan self nie gelukkig nie.

Hoe raak jy self gelukkig (en kan jy dus ook ’n man en ander mense gelukkig maak?) Vir seker nie deur ‘n sak bene te wees nie! Marelize: ‘’Ek het al dikwels gevind vroue wat hul teikengewig bereik het, wil net nog maerder wees. Ewig onvergenoegd, altyd krities oor hulself en hulle mis soveel wonderlikhede wat die wêreld en verhoudings bied. Hulle kan dan dikwels ook nie self die nodige koestering en sorg aan ander gee nie. Miskien is dit beter om te streef na’n bietjie molligheid.’’

Wie sal beter weet as Marciel Hopkins, een van SARIE se gewilde bloggers (op haar dag ’n Mej SA finalis) en deesdae ’n bekende internasionale plus size model? Sy kan verstaan vroue wat gemaklik is in hul liggame, sal mans gelukkig maak. ‘’As jy jouself aanvaar en celebrate, en nie bekommerd is oor die selluliet op jou linkerboud of ekstra rolletjie wat oor jou jeans se rand kruip nie, sal dit vir jou geliefde lekker wees om by jou te wees, want hy hoef jou nie heeltyd te verseker dat jy goed en mooi genoeg is nie. Jy weet dit mos al klaar! Dit is goed om te glo jy is wonderlik, ongeag jou broekgrootte!’’

Maar sy glo ook mens kannie teen skraal vroue diskrimineer nie. ‘’Daar is geen verkeerde manier om vrou te wees nie. Selfaanvaarding en liefde begin by jou denke.All women are real women.’’